Die Tuli Beeste Geskiedenis

Die Tuli Beeste Storie

Vroeë Geskiedenis van die Tuli Ras

Die Tuli, ‘n mediumraam, inheemse, poenskop vleisbeesras, is gehard, baie aanpasbaar, glad van haar en het ‘n natuurlike weerstand teen beide inwendige en uitwendige parasiete. Hy is effekleurig maar kom in skakerings van wit, geel en rooi voor en het ‘n kenmerkende lang, diep lyf met goeie breedte en kapasiteit, sterk bene en ‘n rustige temperament.

Geskiedenis

Tuli GeskiedenisAfrika Beeste is tradisioneel opgedeel in die met skowwe en die daarsonder. Die met skowwe is ook weer in twee groepe verdeel. Die met hul skowwe, meer na agter op die toraks (thoracic hump) word Zebu genoem en die met skowwe meer na vore op die nek (cervico- thoracic hump) staan bekend as Sanga. Volgens die heel nuutste radiokoolstof tegnieke was daar ongeveer 2000 jaar gelede reeds beeste in Botswana en hulle is in alle waarskynlikheid deur migrerende stamme in Suidelike Afrika ingebring. Met verloop van tyd het sangas volop in die omgewing suid van die Zambezi voorgekom. Deur die eeue heen het die beeste deur natuurlike seleksie by verskillende ekologiese streke aangepas. Klein verskille het in die streke voorgekom en die beeste het die basis vir verskeie rasse geword – Tswana tipes waaruit die Tuli afkomstig is; die Afrikaner met sy afstammelinge soos die Bonsmara; en die Nguni met die naverwante Pedi-, Zulu- en Caprivi beeste. Navorsers het sedert die vroeë sewentigs met baie teorie vorendag gekom m.b.t. die kwessie of sangas nader verwant is aan die Europese bos taurus bees of aan die Asiaties bos indicus. Deurslaggewende navorsing in die 1990’s, ondersteun deur die wetenskap wat intussen ongekende vordering gemaak het, het onteenseglik bewys dat suider Afrikaanse sangas as Bos taurus geklassifiseer behoort te word. Daar is egter klein maar belangrike verskille (biochemiese o.a), tussen Bos taurus beeste uit Brittanje en Europa en suider Afrikaanse sangas soos die Tuli. Die verskille word o.a deur wetenskaplikes toegeskryf aan mutasie en natuurlike seleksie vir groter aangepastheid by tropiese omstandighede. Op sterkte hiervan is voorgestel dat sangas soos die Tuli as ‘n aparte groep, Bos taurus africanus, geklassifiseer word..

Vroeë Tuli Geskiedenis in Zimbabwe

In die vroeë jare veertig was daar in Suid Rhodesië (vandag Zimbabwe) ‘n veeverbeterings skema in plek waarvolgens ingevoerde bulle van Europese rasse aan die plaaslike bevolking beskikbaar gestel is. Die idee was om die inheemse veestapel te “verbeter”. Mnr Len Harvey, ‘n Suid Afrikaans gebore landbou adviseur wat vir die Staat gewerk het, was hoegenaamd nie oortuig dat die skema deurdag was of dat dit noodwendig enige verbetering te weeg sou bring nie. Hy was seker dat die ingevoerde beeste en hulle nageslag waarskynlik nie in die uiters moeilike omgewing sou oorleef nie. Harvey het reeds opgemerk dat daar onder die gewone Tswana tipe beeste, in die suid-westelike hoek van Zimbabwe waar hy gewerk het, ‘n spesifieke tipe geel sanga was wat, te oordeel aan hulle konstante goeie kondisie, blykbaar beter aangepas was by die omgewing. Dit het hom vier jaar geneem om die Staat te oortuig, maar in 1945 word 3000 akkers grond in die Trustgebied, 40km suidwes van Gwanda, opsy gesit vir ‘n veeteeltprogram met ‘n ‘revolusionere’ nuwe benadering gebaseer op verbetering van die inheemse beeste self. Na die nodige infrastruktuur aangelê is, is die eerste groep van 20 koeie en ‘n bul wat van die plaaslike bevolking gekoop is in 1946/47 op die plaas gevestig. Binne maande is getalle tot 60 koeie en 2 bulle aangevul. Die plaas, aan die Guyuspruit, ‘n sytak van die Tulirivier, het mettertyd bekend geraak as die T.B.S (Tuli Breeding Station). In 1950 is die T.B.S vergroot tot 20 000 akkers en Len Harvey is aangestel as permanente Beampte in Bevel. Aanvanklik is seleksie klem op vrugbaarheid en konstitusie van die koei sowel as haar kalf geplaas, met spesiale aandag aan bene en uiers. Getalle moes vinnig opgebou word, maar besondere klem is gelê op fenotipe en gewig per ouderdom, aangesien verbeterde vleisproduksie by die Tuli die hoofdoel was. In 1954 het Tuli’s vir die eerste keer aan die Matabeleland Skou deelgeneem en boeredae is by die T.B.S gehou. In 1955 is die Tuli as ‘n inheemse Rhodesiese Ras geregistreer. Ten spyte van genadelose prul van diere wat nie op standaard was nie was daar in 1961 reeds meer as 1000 Tulis op die T.B.S. Dit was ook die jaar waarin groepe Tuli tollies, tot almal se verbasing, skoonskip gemaak het in slagkompetisies op al drie die grootste skoue in die land. So is die gesogte ‘Triple Crown’ trofee vir die T.B.S verower. .

Alhoewel die idee was om beter diere te teel om weer aan die plaaslike bevolking terug te gee is klein getalle diere op ‘n soort bruikleen skema aan belangstellende kommersiële boere beskikbaar gestel. In 1961 is ‘n Tuli Telersgenootskap gestig en ‘n Grondwet en Regulasies opgestel.

In 1962 word Len Harvey se belangrike bydrae tot die landbou in Zimbabwe beloon deurdat ‘n M.B.E (Most Excellent Order of the British Empire) deur die Engelse Koningin aan hom toegeken is. ‘n Hoogtepunt in die Tuli se vroeë geskiedenis het in 1969 plaasgevind toe Bulawayo die “Vryheid van die Stad” aan die Tulis toegeken het. Met ses uitstaande bulle vooraan is Tuli’s van die T.B.S deur die middestad geparadeer met die Bulawayo doedelsakspelers aan die voorpunt. Op die trappe van die Stadsaal het die burgermeester hulle ingewag en ‘n manjifieke bul, Sergeant, is seremoniëel aan die stad oorhandig en herdoop na “Si Ye Pambile” wat Bulawayo se stadsleuse is en in Ndebele ‘Ons gaan vooruit’ beteken. Op die eerste openbare produksie veiling van Tulis in 1965 is die hele aanbod van 39 bulle, 117 verse en 49 koeie deur entoesiastiese kopers opgeraap.

Die ‘moeder kudde’ van 300 koeie het van krag tot krag gegaan. Die T.B.S. kudde is intussen na die Guyu Kudde herdoop en hieraan is ‘n storie gekoppel. Die eerste poenskop bul ( seun van die Basis bul, Mahuke, wat los horings gehad het) is op 21 April 1951 in die droë sanderige loop van die Guyuspruit gebore. Hy is GUYU gedoop. Guyu se invloed op die kudde was so groot dat daar besluit is om die kudde na hom te vernoem en hyself staan vandag in historiese stambome bekend as GUYUGUYU.

In 1978 tree Len Harvey na 40 jaar in die bedryf af. Die ‘Bevrydings Oorlog’ wat teen die tyd reeds vir jare geduur het, het geleidelik in felheid toegeneem. Een nag in 1979 is al die werkers van die T.B.S ontvoer. Daar is gevrees dat die Tulis in groot gevaar verkeer en ‘n reuse reddings aksie is deur Ian Smith se Regering op tou gesit. Staatsvoertuie is beskikbaar gestel en al die diere is binne 48 uur na die Matopos Navorsingstasie verskuif. Alhoewel Harvey nog vir ‘n ruk as adviseur opgetree het, het die brandpunt van aksie t.o.v. die Tuli voortaan na privaat telers verskuif.

.

Tuli Pregnant Heifers

Tulis in Suid Afrika

Die eerste Tulis, ‘n groep van 30 dragtige verse en 3 bulle, is aan die einde van 1976 vanaf die T.B.S in Zimbabwe na Suid-Afrika gebring. Die invoerders was die Bornmann familie en ‘n aangetroude familielid, Dr Fanie Kellerman. Dr Kellerman het op ‘n stadium in Zimbabwe gewerk en het daar met die Tulis kennis gemaak. Die beeste is op skoue aan die publiek bekend gestel, boere- en inligtingsdae en prestige promosieveilings is gehou en geleidelik het die Tuli ook in Suid Afrika sy merk gemaak. Die Tuli Beestelersgenootskap is op 24 Maart 1994 amptelik gestig. 

Die Tuli Beesttelersgenootskap van Suid Afrika het in die afgelope 10 jaar goeie groei gesien in die aantal lede, met 'n verhoging van 183% tot 73 lede met lewende hawe wat by SA Stamboek geregistreer is. Die geregistreerde diere het vanaf ±5000 diere in 2005 verhoog na 9468 diere in 2015.

Verspreiding

Die Tuli is by uitstek ‘n ekstensiewe veldbees wat gedy op natuurlike veld. Die ras het ‘n besondere vermoë om enige kwaliteit ruvoer produktief om te sit in vleis. Tulis se ongelooflike aanpasbaarheid word duidelik weerspieël as mens na die beeste se verspreiding kyk. Tulis floreer in alle toestande, van die duineveld in Namibië, die Noordkaap en Botswana; die warm hartwater bosveld streke in Zimbabwe, Limpopo en die Laeveld van Mpumalanga; die hoë reënval galsiekte en rooiwater gebiede van Mpumalanga en Natal; die koue berghange van die Drakensberge waar sneeu gereeld voorkom; die uitgestrekte Vrystaatse grasvlaktes; die bossieveld in die Karoo; in die koue mistige berge van die Ooskaap sowel as die kusbos daar. Vandag is daar Tulis in Australië, Kanada, die VSA en in die warm tropiese dele van Zambië..

Eienskappe

Die Tuli is ‘n egte Suider-Afrikaanse inheemse ras met ingeteelde gehardheid en aanpasbaarheid wat verkry is deur natuurlike seleksie oor ‘n periode van meer as twee duisend jaar. Meer onlangse wetenskaplike seleksie metodes het die klem laat val op ekonomies belangrike einskappe en die moderne Tuli is ontwikkel sonder om die raseienskappe, aanpasbaarheid en gehardheid prys te gee. By vroulike diere is veral vrugbaarheid, melkproduksie en lae kalf mortaliteit nagestreef terwyl groeivermoë, voeromset en karkas kwaliteit by manlike diere beklemtoon is. Die Tuli het in relatiewe isolasie ontwikkel en het ‘n unieke genetiese profiel wat hom besonder suksesvol maak in kruisteelprogramme - nie alleen word ‘n hoë mate van basterkrag verkry nie maar ‘n hoë persentasie poenskop kallers ook. Tuli osse asook kruis kalwers rond makliker op die veld af as baie ander rasse.

Om die ideale Tuli te verseker word net soveel klem op die prestasie as die visuele voorkoms van die ras gelê wat gedoen word volgens die Tuli Standaard van Voortreflikheid.

 

© Tuli Cattle. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Tuli Cattle.